Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 2 SEPTEMBER 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat die Port Elizabeth ARV moet aankondig dat een van hulle langsdienende lede, Dudley Forsyth, ZS2AW, se sleutel stil geword het op Sondag 26 Augustus 2012. Hy was 91 jaar oud en het in 1936 as 15 jarige die lisensie as ZU2D ontvang. Hy het tydens die Tweede Wêreldoorlog gedien en was ‘n krygsgevangene in Duitsland. Na die oorlog hy die ZS2AW-roepsein ontvang.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

BEPLAN U OM DIE RAE IN OKTOBER TE SKRYF?

IARU SÊ DIT SAL DOT RADIO DOMAIN VERWELKOM

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

BEPLAN U OM DIE RAE IN OKTOBER TE SKRYF?

Die sluitingsdatum vir die Oktober RAE is op Maandag 10 September. Let asseblief op na die nuwe sluitingsdatum. Dit is 10 dae vroeër as voorheen om die vereistes van OKOSA te akkommodeer. Besonderhede van hoe om vir die eksamen te registreer kan gevind word op www.sarl.org.za, klik op lisensiëring in die linkerkolom en kies die skakel ‘amateur radio examinations’.

Dit is belangrik om die instruksies tot op die letter te volg en om te verseker dat alle vorms behoorlik voltooi en aangestuur word na admin@sarl.org.za of per faks na 086 299 0566. Gebruik asseblief 'n swart pen en skryf duidelik in drukskrif. Vir hulp, skakel Mariska by 011 675 2393. Geen laatinskrywings kan toegelaat word nie.

Geaffilieerde klubs wat 'n eksamen wil fasiliteer moet verseker dat 'n eksaminator en 'n opsiener teen 6 September op die laatste geregistreer is.

IARU SÊ DIT SAL DOT RADIO DOMAIN VERWELKOM

Die Internasionale Amateurradiounie sê dat dit die Europese Uitsaaiunie se voorstel dat die boonste vlak Internetdomein dot radio gebruik word om te help om 'n globale radiogemeenskap te skep ondersteun. IARU-President Tim Ellam, VE6SH, sê sy organisasie is van mening dat die voorstel, ingedien te word deur die Europese Uitsaaiunie, kan 'n unieke geleentheid daarstel om radio domein name op die Internet te standaardiseer.

In 'n onlangs openbaargemaakte brief, het VE6SH gesê dat hy aanbeveel dat die voorstel van 'n dot radio domein goedgekeur word deur die ‘Internet Corporation for Assigned Names and Numbers.’ Europese Uitsaaiunie se Direkteur-generaal, Ingrid Deltenre, het gesê die Internasionale Amateurradiounie se kommentaar is 'n uitdrukking van vertroue in die voorstel. Die volledige storie op die nuwe dot radio domein en hoe dit 'n impak op spektrumgebruikers sal maak is aanlyn beskikbaar by tinyurl.com/IARU-dot-radio.

ARRL-EEUFEES KONVENSIE GEHOU IN HARTFORD

Die ARRL het aangekondig dat die organisasie se 2014 Nasionale Eeufeeskonvensie van 17 tot 20 Julie in Hartford, Connecticut gehou sal word. Die Konvensie sal die 100 jaar van die ARRL se stigting herdenk, wat in die stad Hartford plaasgevind het. Die tema vir die ARRL se eeufeesjaar is die bevordering van die kuns en wetenskap van radio sedert 1914. Meer inligting is aanlyn by www.arrl.org/expo beskikbaar.

NOORD-CAROLINA-TIENER ONTVANGER VAN ARRL SE 2011 HIRAM PERCY MAXIM TOEKENNING

Derek Brown, W4DTB, Chapel Hill, Noord-Carolina, is die naam van die ontvanger van die 2011 Hiram Percy Maxim toekenning. Derek, wat 14 is, is sedert 2010 gelisensieer en het 'n Amateur Ekstraklaslisensie.

Hy het eers in amateurradio begin belangstel na die lees van 'n artikel in die MAKE tydskrif. "Nadat ek die ARRL Amateurradio-lisensie Handleiding gelees, het ek na die plaaslike klub, die Orange County Radioamateurs gegaan om my tegniese toets te neem," het hy die ARRL vertel. "Dieselfde aand het ek my voog, Bruce Meier, N1LN, ontmoet en het hy my geïnspireer om die volgende twee toetse te voltooi. Hy het my gehelp om 'n stasie te bou, insluitende my eerste radio wat ek op 'n vlooimark gekoop het. Met sy hulp het ek 'n vertikale antenna in my agterplaas opgerig. Ongelukkig het 'n boom die antenna sowat twee weke gelede platgeslaan en die monteerraam gebreek, so ek sal van die lug af wees tot ons die onderdele kry en dit herstel."

Hy is die stigter van die Jeug Amateurradioklub van Amerika (YARCA), wat daarop gemik is om amateurradio onder die jeug te bevorder; een van YARCA se aanvanklike teikengroepe is Padvindergroepe. Die webwerf sluit opleiding vir lisensietoetse in en 'n werkswinkel vir Padvinder Radio Merietetoekenings in. Derek het gesê hy is tans besig met die beplanning vir die hou van 'n YARCA Toekeningsdag vir plaaslike Padvinders. Hy is ook 'n ARRL Openbare Inligtingsbeampte (PIO).

As hy nie op die radio is nie, gebruik Derek tyd as 'n Rekenaarwetenskapintern, waar hy die skep van rekenaarprogramme in 'n verskeidenheid van tale doen. Hy is ook 'n Lincoln-Douglas debatvoerder en sal hierdie jaar na toernooie regoor die land reis. Hierdie herfs betree hy sy eerste jaar by Durham Academy in Durham, North Carolina.

Die Hiram Percy Maxim Toekenning word gegee aan ‘n ARRL-lid onder die ouderdom van 18. Dit is bedoel om 'n tasbare beloning aan te bied aan verdienstelike jong amateurs wat hul tyd, vaardighede en energie daagliks uitdra deur hul verbintenis aan Amateurradio.

KOMPETISIENUUS

SARL HF Digitale kompetisie.
Die kompetisiekomitee het elf enkeloperateur logs en een multi-operateur log ontvang vir die Digitale kompetisie gehou op 19 Augustus 2012.

In die enkeloperateur klas, het Noel Hammond, ZR6DX, met sy 127 punte vir Brendon Muller, ZS4BM, met 125 punte geklop vir eerste plek. Marius Snyman, ZR6MS, met 120 punte is in die derde plek. Francois Reynecke, ZS6FDX, en vriende het as ‘n multi-operateurstasie deelgeneem en 5 punte behaal.

Rohan Schreuder, ZS6RJS, het die hoogste telling op ‘n enkelband behaal met 99 punte op 40 meter. In die Klubkompetisie het die Oos-Rand Tak weer met die louere weggestap met 199 punte, gevolg deur die Wes-Rand ARK op 127 punte en die Bloemfontein ARK op 125 punte.

Baie geluk aan Noel, Rohan en die Oos-Rand Tak.

Die kompetisiekomitee het alreeds 14 logstate vir die HF GG-Kompetisie, gehou op 26 Augustus, ontvang. Die sluitingsdatum vir die instuur van logstate is middernag Maandag 3 September.

Die tweede been van die SARL BHF/UHF Analoog en Digitale kompetisie word vanaf 10:00 UTC op Saterdag 15 September tot 10:00 UTC op Sondag 16 September gehou. Werking sal plaasvind op 6, 4 en 2 meter asook 70 en 23 cm en die hoër bande. Lees die volledige reels op bladsy 32 van die 2012 SARL Kompetisiehandboek, dit is te veel om hier in die bulletin te plaas.

KLUBNUUS

Tydens die AJV van die Potchefstroom Amateurradioklub, gehou op 25 August 2012, is die volgende amateurs verkies tot komiteelede vir 2012/2013:
Voorsitter: Stef Terblanche, ZS6AOK
Visevoorsitter: Joe Mayer, ZS6ANW
Tesourier: Chris Viljoen, ZS6BYQ
Sekretaris: Johan Bamberger, ZS6LVG
Tegnies: Stef Terblanche, ZS6AOK
Komiteelid: Dawie Genis, ZS6GWD
Sosiaal: Annetjie Terblanche, ZR6BYG

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is maar dat die vooruitskouing positief is. 'n Aktiewe sonvlek is besig om terug in die aarde se gesigsveld te roteer en daar is selfs die moontlikheid van M-klas fakkels vanaf hierdie sonvlek. Verder is van die ander sigbare sonvlekke besig om te groei.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 56.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die gematigde sonaktiwiteit gaan 10 m openinge minder gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

3 September – sluitingsdatum vir logstate vir die HF GG kompetisie.
6 September – Klubs wat RA-eksamensentrums wil aanbied, moet eksaminators en opsieners voor hierdie datum registreer.
10 September – Laaste dag om vir die Oktober-RAE in te skryf.
15 en 16 September – SARL BHF/UHF analoog en digitale kompetisie
30 September - Nominasies vir die MTN-geborgde SAARDT-toekennings moet in wees na saardt@intekom.co.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Vandag wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Martin Schwella, ZS4MS, en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003